Rieldans

Het jy al ‘n soort trap getrap wat jou tone laat krul? Weet jy hoe om die askoek te slaan? Het jy al van Boesmanland Bitterbessies of Griekwa Hiënas gehoor? Indien jy nie enige ja kon ja nie, is dit nou jou geleentheid om te lees, te hoor en te kom tjyk.

Die ATKV Rieldanskompetisie beantwoord al jou vrae oor hierdie oeroue dans wat deur die Khoi-San getrap was. Destyds was dit na ‘n oes of jagtog en ook by feeste al sirkelend om die vuur die Riel getrap, sê Benjamin Bock, Erfenis Projekbestuurder by die ATKV. Hy neem oor by die projekorganiseerder, Elias Nel en sien geweldig baie uit na die nuwe aanbieding van die Rieldanskompetisie.

Die Rieldans is deur die ATKV die laaste elf jaar gegroei vanaf 7 tot ongeveer 100 groepe. Vanjaar het 88 groepe aan die kompetisie deelgeneem. Daar is navrae om ongeveer 35 groepe vir volgende jaar te stig en op te lei.

Vanjaar was daar weer drie streeksuitdunne in die Kouebokkeveld, Laingsburg en Garies aangebied en die twee kwarteindrondtes in Vredendal en Calvinia. Die Semi-finaal van die Rieldanskompetisie word op Saterdag, 22 Oktober in Clanwilliam aangebied. Die kompetisie vorm dan deel van die jaarlikse Cederberg Rooibos Kunstefees en beloof om weer groot pret en fantastiese dans- en voetwerk te lewer. Toeskouers word uitgenooi om die dag en sommer die feesnaweek met ons te kom meemaak. Kaartjies is by die hek beskikbaar teen R20 (volwassenes), R10 (kinders) en R10 per voertuig.

Indien jy wonder hoe jy ons met die verdere ontwikkeling van ons gemeenskappe, wie deel is van ons ATKV projekte te help, besoek gerus ons webwerf by www.atkv.org.za of kontak ons by 0119199000 of ons Stellenbosch Streekkantoor by 021 8801743.