PROGRAM: SATERDAG 22 OKTOBER 2016

08:30 STAP SAAM DEUR DIE GESKIEDENIS VAN CLANWILLIAM MET STEPHNIE MURRAY

Stap deur die oudste strate van Clanwilliam en leer oor die geskiedkundige geboue en bekende persone wat in Clanwilliam gebly het.

Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: R50
Besprekings: Stephnie Murray by 084 870 0001 of pens@telkomsa.net

09:00 ROADSHOW ATKV-RIELDANSERS
VOOR CLANWILLIAM MUSEUM

GESINSVERMAAK

Die deelnemers aan die ATKV-Rieldans Semi-finale gaan ‘n optog hou deur die strate van Clanwilliam. Daar sal ‘n kort optrede voor die Clanwilliam Museum wees, waarna die optog na die Clanwilliam Skougronde beweeg vir die kompetisie.

Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: Gratis
Besprekings: Geen

10:00 ATKV-RIELDANSERS SEMI-FINALE
CLANWILLIAM SKOUGRONDE

GESINSVERMAAK

Tydsduur: 4 uur
Kaartjies: Volwassenes R20, kinders R10 en R10 per voertuig
Besprekings: Geen besprekings
Lees meer

10:30 AMPER, VRYSTAAT
NG KERKSAAL

KOMEDIE
Ouderdomsbeperking: 16 (Taal)

"Mense sê die Vrystaat is waar geheime die emmer skop, waar die aarde so plat is jy sien jou toekoms as jy 'n windpomp klim ... Drie vervreemde susters ontmoet vir Ma se begrafnis in Amper, 'n dorpie duskant nêrens. Daarby het die vreemde omstandighede rondom hul ma se dood die hele kontrei aan die gons ..." Amper, Vrystaat is 'n komedie met hart. 'n Storie met waarheid wat elke mens raak. Daarby het elke mens ‘n geheim... Die produksie ontvang die prys vir die Beste Debuutproduksie by die Vrystaat Kunstefees 2015, asook vyf Fiësta-nominasies in 2016.

Teks: Die Geselskap
Regie en ontwerp: Nico Scheepers
Vervaardiger: Antoinette Louw
Met: Antoinette Louw, Cintaine Schutte en Milan Murray
Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: R90 per persoon
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

12:00 LAAT DIE POTTE SING...
MICHAEL'S ON PARK

KOSDEMONSTRASIE

Marlise Scheepers, oftewel Sjef Snoekie, is soos Neopolitan-roomys wat destyds almal se gunsteling was - sy sing, blog en kook. En vir die kersie op die koek behartig sy ook die nuusredaksie en kosstilering van Farmers Weekly. Haar aweregse sin vir humor en slag met kos word in Laat die Potte Sing gekombineer om nie net heerlike resepte te skep nie, maar ook die lewe te blaas in raakvat-stories en beskrywings. Hierdie is ‘n kans om saam met Sjef Snoekie te kook, sing, stories te vertel en lekker saam te lag. Maak seker jy mis nie uit op hierdie geleentheid nie - dis kosmaak soos jy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Moontlik gemaak deur: LAPA-uitgewers en Michael’s on Park
Met: Marlise Scheepers
Tydsduur: 90 minute
Kaartjies: R100 per persoon (proehappies ingesluit)
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

12:00 JOHAN BAKKES, DANA SNYMAN & GERT VLOK NEL
REINHOLDS RESTAURANT

REISVERHALE MET MUSIEK

Kom luister na die reisverhale van Johan Bakkes en Dana Snyman met musiek deur Gert Vlok Nel.

Moontlik gemaak deur: Hiemstra Trust, Fryers Cove en Reinholds Restaurant
Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: R70 per persoon, ligte ete en wyn ingesluit
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

14:30 MY BRILJANTE EGSKEIDING
NG KERKSAAL

GESINSVERMAAK

Dit was bietjie vreemd die dag toe Manie terugkeer van sy besigheidstrippie en hy begin sy tas inpak en nie uitpak nie. Voordat Engela van Tonder-Strydom weet wat haar tref, hardloop hy tas en al af met die trappe, uit by die voordeur en uit Engela se lewe. Dis eers later wat sy hoor van Rosa, die jong kaktusbloeiseltjie wat Manie op sy besigheidstrippie in Mexico ontmoet het. En dinge verander. Uit die stal van Lyf, Die Naaimasjien en Shirley Valentyn kom Geraldine Aron se wêreldtreffer.

Teks: Geraldine Aron
Vertaling/verwerking: Hennie van Greunen
Vervaardiger: Wordsmith’s Theatre Factory
Regie: Hennie van Greunen
Met: Anthea Thompson
Tydsduur: 90 minute
Kaartjies: R90 per persoon
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

16:30 DIE NUWE GRASKOUE TRAPPERS
VOOR CLANWILLIAM MUSEUM

Kom kyk na die eerste rieldansgroep wat gekwalifiseer het om aan die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles deel te neem. Hierdie uitstaande groep dansers en orkes het met 13 medaljes teruggekeer en is gekroon as die Wêreldkampioene in die Etniese Volksdans kategorie. Moenie hierdie geleentheid misloop nie!

Tydsduur: 20 minute
Kaartjies: Gratis

17:00 STRINGSTORIES
MICHAEL'S ON PARK

KONTREISTORIES

Die ATKV bied met trots 'n storievertelmiddag met lekker kontreistories en musiek aan. Stories word oral in die wêreld as vermaak vertel en ook as leermiddel benut. Stories was oor geslagte heen die draers van gemeenskappe se geskiedenis en kultuurerfenis. Dit is aan die uitsterf, en die kultuur wat daaraan gekoppel is, het begin verdwyn. Hierdie projek beywer hom vir die herlewing van die kuns van storievertel in verskeie dele van die land. Dit plant die saadjie om weer rondom die voete van ons ouers, maar spesifiek ook in sale en teaters, na stories te luister. Stringstories is die tweede natuurlike uitvloeisel van die Naelstring-voorlesings. Die projek gaan dus oor die bewaring van storievertel. Hierdie stories kan gebruik word om mense en gemeenskappe, en veral ook die jeug, by toneel- en filmproduksies betrokke te maak. Die ander doel is om genot aan gemeenskappe te verskaf. Knyp 'n tydjie af, kom sit agteroor en luister na lekker stringstories.

Met: Florence Filton, Benjamin Bock, Albertus Davids en Oswald Johannes
Tydsduur: 90 minute
Koste: R20 per persoon
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

19:00 DANS
CLANWILLIAM SKOUSAAL

DANS

Kaartjies: R30 per persoon. Kontantkroeg beskikbaar.
Navrae en kaartjieverkope: Joppie Amon by 073 046 2415.

20:00 DIE SONG WIL MY NIE LOS NIE
CLANWILLIAM SENIOR SEKONDêRE SKOOLSAAL

MUSIEKTEATER

"Die beste vertoning wat ek by die Woordfees gesien het. Ek het van die begin af gelag en gehuil." Dis die reaksie van gehoorlede ná die stuk se opening. Sewe unieke, talentvolle mense is gekeur vir die ATKV-liedjieslypskool. Hulle is toe meer as net liedjieskrywers; hulle is talentvolle sangers en elkeen het 'n beeldskone storie. Só word hul stories en liedjies vervleg tot ‘n snaakse, roerende en opruiende musiekteaterproduksie wat met elke vertoning deur juigende gehore verwelkom word. Vertel my jou storie, sing my jou song, en dalk sal ons mekaar beter verstaan.

Moontlik gemaak deur: ATKV
Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: R40 per persoon en R20 vir skoolgaande kinders
Besprekings: Cederbergfees-kantoor