Praatjies, kos en wyn

DONDERDAG 20 OKTOBER 2016
17:00 150 JAARVIERING VAN DIE ANGLIKAANSE KERK
CLANWILLIAM MUSEUM

OUDIOVISUELE VERTONING

Aanbieder: Stephnie Murray
Tydsduur: 45 minute
Kaartjies: R10 per persoon
Besprekings: Geen besprekings

VRYDAG 21 OKTOBER 2016
10:00 ROOIBOS DAMESOGGENDTEE
NDEDEMA LODGE

OGGENDTEE

Ken jy die verskil tussen koeksisters, koesisters en bollas? Kom luister na Retha Skein en Martjie Malan in die tuin by Ndedema Lodge. Retha, 'n gebore Clanwilliamer, is by die Inniebosfees by 'n Huletts-kompetisie as bobaas-koeksisterbakker aangewys. Sy praat oor haar reis met koeksisters. Fynbakker Martjie Malan, Koekedoor 1 se naaswenner, verduidelik die verskil tussen “Koeksisters, Koesisters en Bollas”. Sy was die melktertbeoordelaar vir Weg-tydskrif se Nasionale Melktertdag en praat oor die geheime van 'n lekker melktert en die wonder van 'n goeie skilferkors. Geniet 'n koppie Rooibos en proe van ons tradisionele gebak voorgesit deur van ons land se beste bakkers.

Moontlik gemaak deur: Rooibos Beperk en Ndedema Lodge
Met: Retha Skein en Martjie Malan
Tydsduur: 90 minute 
Kaartjies: R50 per persoon (sluit tee en eetgoedjies in)
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

SATERDAG 22 OKTOBER 2016
12:00 LAAT DIE POTTE SING...
MICHAEL'S ON PARK

KOSDEMONSTRASIE

Marlise Scheepers, oftewel Sjef Snoekie, is soos Neopolitan-roomys wat destyds almal se gunsteling was - sy sing, blog en kook. En vir die kersie op die koek behartig sy ook die nuusredaksie en kosstilering van Farmers Weekly. Haar aweregse sin vir humor en slag met kos word in Laat die Potte Sing gekombineer om nie net heerlike resepte te skep nie, maar ook die lewe te blaas in raakvat-stories en beskrywings. Hierdie is ‘n kans om saam met Sjef Snoekie te kook, sing, stories te vertel en lekker saam te lag. Maak seker jy mis nie uit op hierdie geleentheid nie - dis kosmaak soos jy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Moontlik gemaak deur: LAPA-uitgewers en Michael’s on Park
Met: Marlise Scheepers
Tydsduur: 90 minute
Kaartjies: R100 per persoon (proehappies ingesluit)
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

SATERDAG 22 OKTOBER 2016
17:00 STRINGSTORIES
MICHAEL'S ON PARK

KONTREISTORIES

Die ATKV bied met trots 'n storievertelmiddag met lekker kontreistories en musiek aan. Stories word oral in die wêreld as vermaak vertel en ook as leermiddel benut. Stories was oor geslagte heen die draers van gemeenskappe se geskiedenis en kultuurerfenis. Dit is aan die uitsterf, en die kultuur wat daaraan gekoppel is, het begin verdwyn. Hierdie projek beywer hom vir die herlewing van die kuns van storievertel in verskeie dele van die land. Dit plant die saadjie om weer rondom die voete van ons ouers, maar spesifiek ook in sale en teaters, na stories te luister. Stringstories is die tweede natuurlike uitvloeisel van die Naelstring-voorlesings. Die projek gaan dus oor die bewaring van storievertel. Hierdie stories kan gebruik word om mense en gemeenskappe, en veral ook die jeug, by toneel- en filmproduksies betrokke te maak. Die ander doel is om genot aan gemeenskappe te verskaf. Knyp 'n tydjie af, kom sit agteroor en luister na lekker stringstories.

Met: Florence Filton, Benjamin Bock, Albertus Davids en Oswald Johannes
Tydsduur: 90 minute
Koste: R20 per persoon
Besprekings: Cederbergfees-kantoor

SONDAG 23 OKTOBER 2016
13:00 EET SAAM MET SJEF NIC VAN WYK
REINHOLDS RESTAURANT

‘n Leipoldt en Rooibos geïnspireerde Sondagmiddagete

Sjef Nic van Wyk, die gewilde kykNET Kokkedoor-beoordelaar, se kosstyl spreek van hartlike landelike geure. Dis ‘n speelse versnit van sy klassieke Franse opleiding en sy kinderherinneringe; tradisie met vernuwing. Sy feesspyskaart vertel ‘n storie van sy passie vir streekskos en kontreiprodukte, asook sy respek vir C. Louis Leipoldt as kos-ikoon. Sy groot smake laat kosliefhebbers stroom na Bistro 13, sy restaurant op Welmoed, Stellenbosch. In sy Kokkedoor-hoedanigheid reis hy ook deur die land met opwip-etes by kos- en kunsfeeste om sy unieke mengsel van onthoukos en kinkelkos met kosentoesiaste te deel. Nic is ook in 2017 weer te sien op Kokkedoortjie, kykNET se nuwe program vir kinderkokke. Voor Nic se roem as televisie-persoonlikheid het hy reeds naam gemaak met ‘n Eat Out-toekenning vir Terroir as Restaurant van die Jaar toe hy skaars 27 jaar oud was. Hy tree ook as gassjef op by Eat Out se jaarlikse toekenningsdinee vir die land se bekendste kosmense. Hy het in Pretoria groot geword, by die ICA studeer en sy liefde vir die fyn kookkuns verder by La Colombe ontwikkel. 

Moontlik gemaak deur: Rooibos Beperk, Cederberg Wyne en Reinholds Restaurant
Met: Sjef Nic van Wyk
Kaartjies: R200 per persoon
Besprekings: Cederbergfees-kantoor